Sunday, April 28, 2019

Hoender Cordon Bleu Sop
Die sop is ryk en vullend - en net wat mens nodig het vir 'n koue wintersdag. Hierdie is ook die perfekte wintersop vir die prutpot - dis verspot maklik om aan-mekaar te slaan en staan en word op sy eie gaar terwyl jy besig is met ander dinge. Die sop vries goed - maar as jy beplan om die sop te vries, moenie die room byvoeg nie, voeg dit eerder voor opdiening by. 


6 x 250 ml hoender aftreksel
300 g gekookte ham, fyn gekap150 g sampoiene, in repies gesny
120 g uie, gekap
10 ml terragon
5 ml sout
5 ml varsgemaalde swart peper
500 g hoenderborsies, vel verwyder en in blokkies gesny
45 ml fyngemaakte knoffel
50 g botter
300 ml room
125 ml suur room
50 g parmessaan kaas, gerasper
100 g cheddar kaas, gerasper


Stel die prutpot op laag. Gooi die hoender aftreksel, ham, sampioene, uie, terragon, sout en peper in die bak. Sit die deksel op en laat dit warm word.
Verhit die botter in 'n groot braaipan en soteer die hoender en knoffel daarin tot bruin. Skep die hoender saam met enige sappe by die vloeistof in die prutpot. Voeg die room, suur room en kaas by. Bedek en kook op laag vir 6 ure. 
12 Porsies * Per Porsie * 1071kJ * 
Total Fat 15g * Protein 24g * Total Carbs 4.8g * Net Carbs 3.1 g

No comments:

Post a Comment